Interessanthede, snaaksighede, diverse

Mobiele kitskosrestourant geparkeer tydens middagete by 'n groot bouperseel. Hierdie lorrie is volledig toegerus, selfs met krane waar warm koffie geskink kan word in die kant van die lorrie.  Amerikaners kan nooit baie ver weg wees van 'n plek wat kos verskaf nie! 

Advertensieplakaat in die venster Fatburger, nog een van die vele kitskos plekke hier. Hulle het 'n duidelike missie! Die naam Fatburger sit vir my egter heeltemal af.

Nog 'n plakaat in 'n winkelkompleks - hierdie keer met wyse raad.

Dit is nie net in Suid-Afrika waar boemelaars en plakkers winkeltrollies opeis as vervoermiddels nie! Hierdie drie boemelaars het in die straat met hulle oorlaaide trollies gestap toe ek nou die dag middagete gaan soek het naby die kantoor. Hier is nogal verbasend baie boemelaars, veral in die Venice strand omgewing.

Alles hier is groter, selfs hulle aarbeie! Dis nou aarbeityd en Chris het 'n pakkie aarbeie by 'n plaas langs die pad gekoop. Ek moet darem byvoeg dat La Concordia in die Paarl se aarbeie ook in hierdie liga was!

Hierdie berg gebraaide uie is 'n voorgereg! Die spyskaart sê darem dat "It is good for sharing". Ons moes dit toe maar met ons hele tafel van 11 mense "share", maar hierdie klomp uie kon ons nie opkry nie.

Ek wonder nogal watter ryding hierdie gedroggie is.

Ek kon dit nie glo toe ek hierdie kombi langs die pad geparkeer sien staan nie. Selfs op die R300 sal mense skaam kry as hulle hierdie gedoente sien! Ek dog eers die ding kom dalk van Meksiko af, maar dit het 'n Kalifornië nommerplaat. Ek wonder nogal wat die Amerikaners se reëls is oor voertuie se padwaardigheid.

Terug na hoofbladsy