Langs die marina, Marina del Rey

Die marina van Marina del Rey is glo die grootste mensgemaakte marina in die wêreld. Alles moet hier altyd só gedoen word dat die beskrywing kan eindig met "in the world"! Dit is net oorkant die straat van ons woonstelkompleks.

Hier is 'n mensgemaakte strand in die marina waar mense kan swem as dit warm is. Hier is natuurlik geen branders nie, alhoewel daar hoog- en laagwater is omdat die marina in die see uitmond.

Dit blyk egter dat dit op die oomblik onveilig is om daar te swem!

Ek het hierdie bordjie ook daar gesien, maar geen teken van die rob wie se "normal behavio(u)r" nie ge-"alter" mag word nie. Die ironie is dat die marina al klaar 'n groot ingryping is deur die mens in die natuur!

Hierdie is 'n betonblad wat tot in die water strek met reëlings aan weerskante spesiaal vir mense met rolstoele! Die baie hoë bordjie aan die regterkant is 'n klomp fynskrif met 'n lys van "precautions". Ek weet regtig nie hoe iemand wat in 'n rolstoel sit dit gelees gaan kry nie!

Dit is sowaar ook net in Kalifornië waar vrouens op 'n koue dag (ek het met 'n langbroek en trui rondgeloop) met bikini's strandvlugbal sal speel.

Terug na Januarie 2002 argief bladsy

Terug na hoofbladsy