Die reis na Los Angeles

Saterdag 24 November 2001

Op Donderdag 22 November vertrek ek en kollega Chris Joubert vanaf Kaapstad Internasionale lughawe met vlug BA59 om 20:40 na Londen se Heathrow lughawe. Ons land daar om 06:20 (08:20 SA tyd) op Vrydag 23 November en vertrek weer van daar of om 12:00 (14:00 SA tyd) op vlug BA283 na Los Angeles. Na die tweede 11+ uur vlug land ons om 15:20 (01:20 Saterdag SA tyd!), na omtrent 27 ure se reis, in Los Angeles.

Hierdie foto is geneem in die Kaap vanuit die BA sitkamer na die Kaapse son weggesak het.

Een van die hoogtepunte van die vlug tussen Heathrow en Los Angeles was die gedeelte waar ons dele van Groenland kon sien. Die grootste gedeelte van Groenland was onder wolke, maar naby die kus kon ons ysberge en 'n paar gletsers sien.

'n Ysberg op die see naby Groenland.

'n Groot gletser se monding by die see langs Groenland se kus.

So het ons video skerms in die vliegtuig die vlug oor Groenland gewys.

Tydens die vlug oor Kanada en die VSA kom 'n mens onder die indruk van die ontsaglike grootheid van die land. Vir ure en ure vlieg 'n mens oor dele wat uit die lug soos die Karoo lyk totdat 'n mens  later die sneeubedekte Rockies sien. Van daar is ons oor die Nevada woestyn, met 'n uitsig oor die bekende (berugte?) Las Vegas en toe die laaste berge af voor ons afsak oor die vlakte tussen die berge waar Los Angeles (die VSA se tweede grootste stad) uitgestrek lê. Ons kon selfs die groot Hollywood kenteken teen die berge op 'n afstand sien terwyl ons die lughawe genader het!

Een van Los Angeles se vele snelweë in die voorgrond (LA het altesaam 800km se snelweë binne die stad se munisipale grense!) met die middestad. In die agtergrond is die San Gabriel berge. 

By Los Angeles lughawe het ons die huurmotor gekry en toe gery na ons woonstel by Thousand Oaks (so ongeveer 50km noord-wes van die lugawe). Die motor is 'n tweedeur Pontiac Grand Am met 'n 2.4 liter enjin. Die Amerikaners dink seker dit is 'n sportmotor (ha ha!). Die ding het selfs 'n vlerk op die kattebak - sekerlik nét vir "versiering"!.

Hier staan Chris by ons vuurwa (!) by National Car Rental se optelplek net buitekant die lughawe.

Toe ons so 18:00 (04:00 Saterdag SA tyd!) by die woonstel kompleks aankom was die kantoor toe met géén aanduiding van waar ons die sleutel moet kry en ons moet uitvind watter woonstel ons moet betrek nie. Eers na 'n laaaang gesukkel (by 'n paar woonstelle aanklop, tol-vrye nommers skakel en sukkel met swak ontwerpte rekenaar respons stelsels, ens., ens.) kon ons teen 20:00 eers ons woonstel kon betrek. Toe was ons lekker moeg en honger. Na 'n pizza skyf het ons gaan slaap. Ek het vanoggend om 03:00 wakker geword - dit sal maar nog so 'n paar dae aanhou totdat die vlugflouheid uitgewerk is.

Dis 'n lekker ruim woonstel met twee slaapkamers, twee badkamers 'n oop plan sit/eet kamer en kombuis. In die kombuis is daar 'n groot gasstoof (wat sy vlammetjies outomaties aansteek), mikrogolf oond, koffiemasjien (tipies Amerikaans - géén ketel!), skottlegoedwasser en yskas. Die wasmasjien en tuimeldroër is in 'n toegeboude kas op die balkon! Twee van Thousand Oaks se eikebome staan reg voor ons woonstel.

Vanoggend is dit lekker triestig en koud hier in Thousand Oaks - soos 'n regte Kaapse wintersdag.

Terug na Desember 2001 argief bladsy

Terug na hoofbladsy