Besoek aan

Hierdie was nou 'n dag waarin 'n mens dikwels nie geweet het wat is werklik en wat is "Hollywood" nie! Dit was fassinerend om te sien hoe baie van die truuks wat ons in flieks sien geskep word en om selfs plekke te sien waar flieks wat ons al gesien het vervaardig is.

Sommer by die ingang is daar 'n groot standbeeld wat vir 'n mens dadelik wys 'n mens betree 'n plek waar werklikhede geskep word om op film vasgevang te word. Bo op die staander is die kamerman met sy rolprent kamera, links staan die man wat die mikrofoon bokant die toneel wat verfilm word vashou en onder is iemand wat beduie wat op die toneel moet gebeur.

Klik hier om te kyk na wat ons gesien het by Waterworld. Dis 'n baie spannende verhaal en net geskik vir die wat die wat geweldige spanning van die Waterworld storie sal kan hanteer! ;-)

Daar moet natuurlik 'n afdeling wees wat gewy is aan Jurassic Park. Hier is een van die dinousorusse net buite die plek waar 'n mens kan aanmeld vir die "Jurassic Park River Adventure".

So eindig die "Jurassic Park River Adventure". Ek het natuurlik my kamera veilig gebêre tydens die avontuur en toe maar ander groepe afgeneem by die klimaks van die riviertog. Dit was so opwindend dat ons selfs vir 'n tweede keer gegaan het!

Hier is natuurlik baie tonele en geboue wat kom uit flieks en TV reekse. Hier kan 'n mens by die Flintstones se kafee eetgoed kry.

Hier stap 'n mens deur 'n stukkie van Londen. Selfs die strepe op die paaie is geverf vir bestuur aan die linkerkant van die pad. Alles is presies soos wat dit regtig daar lyk, van die lettertipes op die straatname tot by die bushalte kentekens. Notting Hill is o.a. hier verfilm.

Tydens die ateljee toer waarop ons gegaan het, het ons verby Whoville gery waar die Grinch verfilm is. Ons is ook verby die Murder She Wrote tannie se huis en nog baie ander plekke wat 'n mens sou herken as 'n mens die fliek of TV reeks gesien het.

Daardie blou muur was waar die "einde van die wêreld" in die Truman show verfilm is. Die blou muur het ook al as agtergrond gedien vir baie ander fliektonele.

Daar loop ook allerhande fliek karakters tussen die mense rond. Hier onder volg 'n paar.

Shrek langs twee seuntjies wat gestaan het vir 'n foto. Die tou vir 'n foto langs Shrek was so lank dat ons maar aangestap het. Ek het darem 'n kans gekry om langs Spiderman te staan!

Links is twee kollega's en 'n vriendin langs die Frankenstein monster. Regs probeer die vampier een van hulle gryp!

Jaws se haai het my probeer byt!

Een van die hoogtepunte was 'n besoek aan die spesiale effekte ateljees. Ons was voor in die ry en toe vra hulle vir twee vrywilliges, 'n man en 'n vrou, om hulle te help met die vertoning. Ek en Sandra Galer ('n kollega van Engeland) is toe ge-"volunteer"! Tydens die vertonings word 'n hele paar truuks gewys wat gebruik word om flieks te maak. Ek het dus my eerste fliekoptrede hier in Hollywood agter die rug!

Op die foto links is ek vasgemaak êrens in 'n Paleis in Egipte. Ek moes kreun van pyn en terwyl 'n sterk wind waai (hulle het 'n reuse waaier aangeskakel) en daar 'n klomp weerligstrale flits met die gedreun van donderweer. Tydens 'n oomblik van donkerte, tussen twee weerligflitse, draai hulle toe vinnig die stuk muur, waar ek vasgemaak is, in die rondte en toe hang daar skielik net 'n geraamte waar ek 'n oomblik tevore gestaan het. Hulle vra toe vreeslik om verskoning vir die gehoor omdat daar glo een of ander fout gekom het met die verstelling van hull weerlig masjien.

Tot groot verligting van die gehoor maak ek toe later weer my verskyning in 'n ander ateljee (weer deur 'n stuk muur wat in die rondte gedraai het). Toe het hulle my arm "gesny" met 'n mes wat die hele tyd kunsmatige bloed laat lek het oor my arm. Ek kan dus nou sê ek was al vir 'n paar minute 'n filmster in Hollywood! ;-)

Terug na hoofbladsy