Vakansiebootjie - VSA styl (of gebrek daaraan!)

Naby Lake Lanier, het ons hierdie bootwerf gesien waar vakansiebote gekoop kan word.

Hier is die boot se boeg. Dis baie duidelik dat dit die ergste deining en branders, wat Valsbaai na sy kant toe kan gooi, met gemak sal kan hanteer. Om te verseker dat enige iemand wat op die voorstoep sit, nie dalk enige geringe ongemak verduur nie, is daar twee plafonwaaiers geïnstalleer.

Sy-aansig van die boot. Weereens is die vermoë van die boot om die ergste seetoestande denkbaar te kan trotseer duidelik sigbaar. Iets wat bietjie ongerieflik is, is die feit dat daar gewone trappe langs die kant van die boot op gaan - nie roltrappe nie. Die lengte van die boot dui ook daarop dat die bootjie ongelukkig seker net die mees basiese toerusting aan boord sal hê. Die boonste foto op hierdie bladsy wys darem dat daar ook tweeverdieping bote beskikbaar is vir die wat ietsie meer soek.

Die boot se agterstoep is vir die dapperes ontwerp. Daar is sowaar net een enkele plafonwaaier beskikbaar - ek sê mos dis 'n baie basiese vakansiebootjie. Die een kant het 'n spiraaltrap en vir die avontuurlustiges en die wat regtig baie dapper is, is daar 'n glyplank om af te gly van die dak af.

Op 'n ernstige noot: Ek wonder waar op aarde 'n mens 'n geskikte stuk baie plat windlose doodstil stuk water sal kry waar hierdie kontrêpsie enige praktiese nut hoegenaamd sal hê? Ek het nog nooit so 'n belaglikheid gesien nie! Wat is die lagwekkendste, die Amerikaners se gestrekte limousines of hierdie ding - ek moet nog besluit!

Terug na Mei-Junie 2002 argief bladsy

Terug na hoofbladsy