Die mees dramatiese "show" by Universal City was Waterworld. Hulle waarsku 'n mens dat mense op sekere gedeeltes van die pawiljoen natgespat sal word tydens die vertoning. Die storie speel af in die toekoms in 'n wêreld waar die ys by die noord- en suidpool gesmelt het en die hele wêreld onder water is. Die paar mense wat nog leef bly op sulke drywende vlotte op die see. Die plek se naam is Waterworld. Hulle het gehoor van die groot legende van 'n plek waar droë land is en wy al hulle tyd om dit te kry. Die heldin van die storie kom by hulle blyplek aan en vertel sy het droë land gekry en haal grond uit 'n sak uit om dit te bewys. Die skelms het egter hiervan gehoor en hulle wil natuurlik eerste by die droë land uitkom.

Hier kom die skelms by Waterworld aan. Op die foto links probeer een van ons helde regs op die foto kyk of hy hulle kan keer. Die boot op die regterkant het 'n groot masjiengeweer aan boord wat gebruik is vir lekker geraas en allerhande effekte daar waar die koeëls "tref" en water wat spat.

Hier kom nog skelms op die toneel aan. Die helde van Waterworld is nou definitief in die moeilikheid. Hoe op aarde gaan hulle uit hierdie penarie kom?

Ai tog, daar is onse heldin gevang en vasgemaak met 'n ketting. Ons held probeer links op die foto kyk wat hy kan doen aan die saak, maar met min sukses. Wat gaan tog gebeur met Waterworld?

Hier kom die groot held van Waterworld op sy jetski aan! Hy het sy skielike verskyning onder die water uit gemaak met 'n groot klomp borrels wat die voorafgegaan het. Nou is daar dalk hoop dat Waterworld gered kan word. Ons sal maar moet sien.

'n Spannende geveg begin wat later bo-op een van die torings van Waterworld 'n draai gaan maak. Ai tog, daar hang ons held aan die toring se randjie. Die skelm het 'n stok waarmee hy hom gaan slaan. Wat gaan tog nou gebeur?

Wonder bo wonder het hy losgekom en kon hy die skelm van die toring afgooi. Om een of ander rede het die skelm se klere aan die brand geraak voor hy daar afgeval het. Nou brand die brandstof, wat op die water dryf nadat die brandstoftenk op die foto, vol gate geskiet is. Hoe nou gemaak?

Gelukkig stuit ons held en heldin vir niks! Hier gaan hulle onverskrokke met hulle boot deur die vlammende laag brandstof op die water. Sjoe, sulke dapperheid. Ek het regtig nooit gedink hulle gaan dit maak nie!

Hulle het dit sowaar ook net net betyds gemaak, want net na hulle weggekom het, het die hele stel omtrent ontplof in 'n see van vlamme. Sjoe, dit was "close"!

Terug na Universal Studios bladsy

Terug na hoofbladsy