Amerikaanse snaaksighede

Daar was 'n advertensie op die TV gisteraand waarvoor ek en Chris kliphard gelag het. Dit was vir 'n outomatiese kat toilet. Dis 'n sandbak met 'n krag aangedrewe hark wat outomaties, nadat die kat klaar is (hopelik!), die goed uit die sand uithark. Dis klaar snaaks genoeg, maar nog was dit het einde niet! Die kersie op die koek was toe hulle aanbied dat as jy dadelik vir jou een bestel, kry jy 'n gratis "privacy tent" wat bo-oor die ding pas sodat die kat in privaatheid die ding kan doen! Rêrig!!!

Die grense van lelikgheid word weer suksesvol deur die Amerikaners verskuif tot nuwe laagtepunte! Hierdie liederlike vervoer kontrepsie wil voorgee om 'n 4x4 te wees, maar het lae profiel bande!

Hier is die komkommerkoelste bakkie op aarde! Hy is spesiaal ontwerp om 'n Karoo plaas se middelmannetjies gelyk te skraap! Hierdie bakkies staan glo bekend as "lowriders"! Waarvoor, weet g'n mens nie.

Hier is weer 'n ander uiterste - 'n dubbelkajuit bakkie (hulle noem dit 'n "crew cab" of "bonus cab"!). Hierdie bakkie het ook dubbele agterwiele. 'n Mens sien heelwat sulke gevalle. Daar is 'n hele paar plekke in Los Angeles waar ek weet hulle sal sukkel om te parkeer.

As 'n mens wydsbeen oor die Swartberge wil ry, kry 'n mens weer 'n bakkie soos hierdie een. Hierdie bakkie is baie hoog en sal 'n hele entjie bokant 'n kombi se dak uitsteek.

 

Lagwekkendste van lagwekkendste! Geen verdere kommentaar nodig nie. Die ou ding seker die kar ry vinniger omdat dit die hele tyd afdraend loop!

Jy kry selfs 'n gesondheidswaarskuwing op die petrolpomp wanneer jy ingooi. Een of ander prokureur het al weer hier 'n paar $'s gemaak!

Waarskuwingsteken op 'n plaas se draad paal wat behandel is. Hulle maak doodseker daar is géén rede om iemand te kan dagvaar nie!

Jy kan by hierdie plek sulke verligte kersversierings koop vir jou tuin! Dis gewaarborg om weerbestand te wees. Daar is natuurlik geen verligte beeld wat enige uitbeelding het van die ware betekenis van Kersfees nie, behalwe vir 'n engel (maar engele is ook deesdae redelik in die "mode"). Hier is ook 'n saal waar 'n mens kersfeesbome kan koop. Hulle staan sulke rye, gerangskik volgens grootes. Sommmige bome is klaar bedek met 'n lagie sintetiese sneeu.

Ja, hierdie foto is eg! 'n Spuitblikkie met sintetiese sneeu vir jou kersboom! Dit kos $1,50.

Terug na Desember 2001 argief bladsy

Terug na hoofbladsy