Big Sur kuslyn

Die naam, Big Sur, kom van die oorspronklike Spaanse naam, "El Sur Grande", wat die groot suide beteken. Dit is 'n ruwe onherbergsame gebied en staan ook bekend as "the greatest meeting of land and sea". Ek het probeer soek vir die oorsprong van hierdie kwotasie, maar kon dit nie kry nie.

Dit is 'n baie mooi gebied, maar ek dink 'n mens moet eers om die Kaapse skiereiland en met die pad tussen Gordonsbaai en Rooi-els ry voor 'n mens sommer sê dit is die mooiste plek waar land en see bymekaar kom. In die Kaap kan ons minstens vir Sir Francis Drake kwoteer wat gepraat het van die Kaap as die "fairest Cape in all the seas" en hy was nogal 'n man wat wyd gereis het!

Die tonele hierbo is almal geneem langs die Big Sur kuslyn vanaf Kalifornië se Roete 1, oftewel die PCH (Pacific Coast Highway).

Point Sur, 'n rotspunt wat 'n ent in die see in staan. Hier het glo heelwat skepe gestrand, totdat 'n vuurtoring in 1889 hier opgerig is. Die vuurtoring word natuurlik nie meer bedryf deur 'n vuurtoring wagter nie, want dit is in 1974 ge-outomatiseer. Die geboue word egter in stand gehou en 'n mens kan gedurende naweke begeleide toere op die eiland onderneem wat 'n mens tot bo in die vuurtoring neem.

'n Bokkie, afgeneem in die Andrew Molera State Park, langs die see.

'n Branderplankryer in die branders by die Andrew Molera State Park se strand.

Tipiese toneel langs die pad in die omgewing van die Big Sur staatsbos. Hierdie is die enigste omgewing waar die groot Amerikaanse Redwood bome tot by die kuslyn groei.

"Hole in the wall", nie langs die Wilde kus in Suid-Afrika nie, maar by Pfeiffer strand, suid van Big Sur.

Nog 'n toneel langs die PCH.

Die McWay waterval in die Juliet Pfeiffer Burns State Park. Daar is net drie watervalle in die wêreld wat direk in die see in val, hierdie een en twee ander valle, binne enkele kilometers van mekaar af, langs die Wilde kus, Suid-Afrika.

Redwood woud in die Juliet Pfeiffer Burns State Park.

Een van die vele brûe waar die PCH die vele klowe langs die Big Sur kuslyn oorsteek.

Die einde van 'n baie mooi dag, geneem net suid van San Simeon.

San Simeon is veral bekend weens die Hearst kasteel wat daarby naby gebou is. Die skatryk media magnaat, William Randolf Hearst, het vir hom 'n "little something" in die berge laat bou. Die "ou plekkie" het 165 kamers, verskeie swembaddens, terasse, gastehuise, ens.

Die Hearst familie is ook bekend vir die kaping van die dogter, Patty Hearst deur 'n terroriste organisasie, die SLA, oftewel die Symbionese Liberation Army. Wat veral opslae gemaak het is toe Patty by die SLA aangesluit het en, ten spyte van haar pa se gewilligheid om die losprys te betaal, nie belang gestel het om vrygelaat te word nie. Sy is later in hegtenis geneem en was lank in die tronk vir dinge wat die SLA aangevang het. Sy is onlangs eers vrygelaat.

Baie van die plaaslike inwoners hier is baie verbaas dat ek die Big Sur pad ry en nie stop om die kasteel te besoek nie. Nadat ek al die mooi van die skepping langs die pad ervaar het, het ek regtig nie belang gestel om 'n skatryk Amerikaner se uitspattigheid te gaan aanskou nie!

Terug na November-Desember 2002 Argiefbladsy

Terug na hoofbladsy