Reis suid van LA tot by Laguna beach

23 Maart 2002: Vandag het ek al met die see langs gery van Marina del Rey af, deur Playa del Rey, Hyperion, Manhattan beach, Redondo beach, Palos Verdes, Long Beach, Huntington Beach, Newport en Laguna Beach. Van Laguna af het ek binnelands toe gedraai en met die snelweg terug gery tot by die woonstel. Hier is 'n paar hoogtepunte van die reis.

'n Paar tonele langs die kuslyn tussen Palos Verdes en Long Beach. Dis 'n baie mooi kuslyn, maar dit kom nog nie by ons Skiereiland of die pad Rooiels toe nie!

Hierdie is 'n skeepskanon wat gebruik is op die oorlogskip, die USS New Jersey. Dit word uitgestal buite die Los Angeles Maritieme museum in die Los Angeles hawe. Dit is 'n 16 duim (406mm) 50 kaliber kanon. Die loop weeg 118,5 imperiale ton, die projektiel weeg 1224,7 kg. Die reikafstand van die kanon is 38 km.

In die Long Beach hawe (net langs die Los Angeles hawe) is die Britse passasierskip, die Queen Mary, permanent vasgemeer as 'n drywende hotel, restaurantkompleks en museum. Die skip het tydens die tweede wêreld oorlog ook diens gedoen as 'n troepedraer oor die noord Atlantiese oseaan (natuurlik toe in ander kleure geverf!).

Net langs die Queen Mary is hierdie Russiese duikboot van die skerpioenklas vasgemeer. Dit is 'n drywende museum uit die era van die Koue Oorlog.

"Voordeur" van 'n rivierboot in die Newport hawe. Die deur sou kan dien as 'n baie mooi voordeur vir ons huis as ek dit net kon uithaal!

Sy-aansig op die rivierboot en die boot se agterkant met die groot wiel wat die boot aangedryf het. Hierdie boot is 'n museum vol ongelooflike skeepsmodelle en ook 'n restaurant (Amerikaners móét alles omskep in eetplekke!).

Tussen Huntington Beach en Laguna Beach is Crystal Cove kuspark, waar van die Kalifornië kusplantegroei beskerm word, waarvan daar maar bitter min oor is. Hierdie is seker die naaste wat ek nog aan 'n ratelslang gekom het! Ek sou so 'n slang beslis "distance and respect" getoon het!

Laatmiddag langs die see by Crystal Cove.

Terug na hoofbladsy