Donderdag 29 November 2001
Yshokkie in die Staples Sentrum

Dit was nou die mees opwindende sport ervaring wat ek nog in Amerika beleef het. Baseball is uiters vervelig, hulle Gridiron "football" is 'n sinnelose getjommel, basketbal is seker ook opwindend, maar die ervaring wat die manne nodig het om yshokkie te speel was verstommend. Die spel vind plaas teen 'n tempo wat mens nie kan glo nie. Al wat mens afsit is die hoeveelheid kere wat die klomp baklei het.

Die Yshokkie wedstryd was tussen die Los Angeles Kings en die Edmonton Oilers van Kanada.

Buite aansig op die sportsentrum, langs die middestad van Los Angeles, waar die wedstryd plaasgevind het. Hier kan julle die Amerikaners kan nie "Centre" spel nie! Blykbaar vind daar elke aand iets hier plaas. Die LA Lakers speel hier basketbal en hulle hou ook opvoerings in die sentrum. Hulle sit 'n laag isolasie bo-oor die ys en bedek dit dan met 'n vloer vir die opvoerings wat nie die yslaag nodig het nie. Die ingangsportaal van die sentrum lyk glad nie soos 'n ingang in 'n sportkompleks nie, maar meer na 'n reuse "foyer" van 'n teater. Orals is groot TV skerms sodat jy nou nie iets mis as jy 'n Bud of BigMac vir jou gaan kry nie.

Hierdie foto van die stadion se binnekant is geneem deur kollega Chris Joubert.

 

Voor die wedstryd begin, is daar 'n "light show" wat patrone op die ys gooi en ligkolle wat deur die skare beweeg op die maat van musiek. Op die tweede foto is die spelers al op die ys om op te warm.

 

Hier is twee tonele geneem tydens die wedstryd. Kyk net hoe klein is die ou doelhokkie! Tydens die wedstryd is daar so 'n ellendige elektroniese orrel wat kliphard speel en gebruik word om die skare op te "phsyc"! Die groot skerms flits hande wat ritmies klap as hulle dink die skare moet 'n slaggie dit doen, of wanneer die mense "Go Kings Go" moet chant met orrel begeleiding! Soms sê die skerms bloot "Noise" wanneer hulle dink die mense moet 'n slaggie 'n geraas maak. So word hulle geprogrammeer. Die Amerikaners weet egter glad nie van 'n Meksikaanse golf nie! Ek is bly ons kan darem nog spontaan reageer op ons sportspanne se spel. Elke denkbare geleentheid word gebruik vir advertensies. Tydens die een "period" se laaste minuut het die skerms geflits dat dit 'n "McFlurry Minute" is! Die wedstryd vind plaas oor 3 "periods" van twintig minute elke. Die werklike verloop van 'n "period" is baie langer as dit want die horlosie word gestop tydens enige onderbreking in die spel. Tydens 'n "period" word die spel ook sommer 'n hele paar keer net gestop sodat die TV kanale wat die wedstryd uitsaai eers gou advertensies kan wys!

 

Hier het kollega Chris Joubert 'n bakleierige oomblik ook vasgelê! Die groot skerm help verseker dat almal dit in detail kan sien! As hulle baklei, maak die orrel so 'n paar lae note! Ja, rêrig! Op die skerm met die telling kan gesien word dat die Oilers toe 1-0 voorgeloop het, die eerste "period" het nog 12:41 tyd oor gehad. Die Oilers het al 7 keer houe na die doelhok toe geslaan en die Los Angeles Kings nog net twee keer. Onder die opskrif "Penalty" word die tyd aangedui waarmee 'n speler gestraf word (soos rugby se koelkas). Dit kan 2, 4  of 5 minute lank wees, afhangende van die graad van die oortreding. Vir die tydperk het die betrokke span dan een minder speler op die ys. Elke span het normaalweg 5 spelers en 'n doelwagter op enige tyd op die ys. Hulle ruil egter gedurig spelers om afhangende van die tipe spel wat plaasvind. As die Kings bv. 'n strafhou kry, sal hulle sommer hulle doelwagter afhaal om dan 6 spelers te kan hê om mee aan te val. Dit het lelik geboemerang in die laaste minute van die wedstryd toe die aanval misluk het en die Oilers kon toe maklik 'n doel kry sonder 'n doelwagter voor die doelhok!

O ja, terloops, die plaaslike helde het 3-1 verloor!

Terug na Desember 2001 argief bladsy

Terug na hoofbladsy