Besoek aan Oxnard en Ventura

Saterdag 8 Desember 2001 - Vanmiddag het ons noord van Thousand Oaks gery deur die vlakte verby Camarillo. Dit is 'n pad wat van ons af afsak deur die berge tot by 'n vlakte langs die see waar daar die grootste aarbei landerye is wat ek nog gesien het! Van daar af is ons deur die kusdorpe (of "cities" soos hulle sê) deur Port Hueneme, Oxnard en Ventura.  Hier onder volg die foto's.

Die aarbeie is ook geplant in plastiek soos by ons, maar dis sulke breë stroke met vier rye aarbeiplantjies op elke plastiekstrook. Dis egter baie verbasend dat hulle nou aarbeie plant. Dit lyk my die klimaat laat hulle toe om dit heel jaar te doen. Die hoë pale in die landerye is windlaaiers. Ek weet nie of hulle krag opwek vir die pomp van besproeiingswater vir die aarbeie nie.

So lyk die sytrandhuise op die strand in Ventura. Die ry huise strek so tot by die horison. Sommige van die huise lyk fênsie, maar daar is ook maar 'n paar liederlike bousels. Hierdie plek staan ook bekend as Hollywood-by-the-sea. Ons het egter geen filmsterre raakgeloop nie.

Sieljagte by Ventura se marina. Hierso moet duisende seiljagte vasgemeer wees! Hier is ook 'n klomp winkels en een restourant waar daar lekker "blues" musiek gespeel is.

Terug na Desember 2001 argief bladsy

Terug na hoofbladsy