Rit met Mulholland Highway en Pacific Coast Highway - 18 Januarie 2003

Al ek al voorheen met hierdie pad gery (sien hierdie bladsy), bly hierdie een van die lekkerste paaie om te ry in die Los Angeles omgewing. Ek wou die mooi pad ook vir kollega Johan gaan wys.

Die Dodge Neon "vuurwa" waarmee ons die pad moes aandurf. Dis maar 'n treurige klein karretjie met heeltemal te min krag vir die bulte rondom Los Angeles.

Uitsig oor die middestad van Los Angeles vanaf die eerste uitsigpunt op die Mulholland Highway. Hierdie is 'n verbasende helder dag volgens Los Angeles standaarde. Ek was al voorheen by hierdie plek en kon toe glad nie die middestad geboue sien deur die deinserigheid en besoedeling nie. Die snelweg in die voorgrond is roete US-101, hier bekend as die Hollywood snelweg. Die stadsgebied in die voorgrond is gedeeltes van Hollywood.

Die beroemde Hollywood teken teen die berg, afgeneem vanaf die eerste uitsigpunt.

Uitsig oor Universal Studios se atelee kompleks in die San Fernando vallei noord van Los Angeles.

Hier is sowaar nog wild hier in die stad in die heuwels bokant Beverley Hills en Hollywood! Ons het hierdie bokkie in 'n vallei tussen huise langs die Mulholland Highway gesien.

Straat in Beverley Hills. Die alomteenwoordige palmbome is tipies van Los Angeles.

Huis in Beverley Hills. Hierdie is nie 'n HOP huis nie!

Uitsig oor die middestad van Beverley Hills van 'n uitsigpunt hoog bokant Hollywood.

Die middestadgeboue van Los Angeles, geneem vanaf dieselfde uitsigpunt. Die San Gabriel berge in die agtergrond kry soms sneeu in die winter (sien hierdie bladsy).

Kan jy dit glo! Namakwaland madeliefies langs 'n snelweg naby Los Angeles! Ons moes vir 'n wyle afwyk van ons roete om brandstof in te gooi en iets te ete te kry, toe ons hierdie plaat blomme langs die pad sien.

Hierdie twee het hulle rit op 'n Harley op die Mulholland Highway geniet.

So lyk dit op die strande langs die Pacific Coast Highway (PCH) in die winter! Hierdie foto is geneem by El Matador strand, een van die mooiste strande in hierdie omgewing.

Hierdie twee het een of ander oosterse verdedigingskuns op El Matador strand ge-oefen.

Soos ek sommige van Los Angeles se karakters ken was hierdie man seker besig om in harmonie met die kosmos te kom, of een of ander soortgelyke nonsens!

Seemeeu op Santa Monica se pier.

Die einde van 'n pragtige dag in Suid Kalifornië.

Terug na Januarie 2003 argief bladsy

Terug na hoofbladsy