Sneeu in die San Gabriel berge

2 Februarie 2002

Nadat dit vroeër hierdie in die Los Angeles omgewing gesneeu het (selfs tot op die strande van Malibu langs die stille oseaan - heeltemal ongekend!) en ons Woensdag die sneeubedekte San Gabriel berge op 'n afstand gesien het, het ons besluit om vandag die Angeles Crest Highway te ry. Hierdie pad gaan baie steil tot bo-op die San Gabriel berge, verby Mount Wilson sterrewag en ook 'n hele paar ski-oorde. Dit was 'n ongelooflike ervaring, om so naby aan die yslike groot stad so heeltemal weg van alles te kan wees en die skoonheid van die natuur so te kon sien.

Die voetheuwels van die San Gabriel berge.

Ons eerste uitsig op "Snow Crest" in die San Gabriel berge. Op daardie stadium het ons gedink dit is seker maar so naby soos wat ons aan die sneeu sal kom.

Uitsig oor die uitgestrekte vlaktes van Los Angeles onderkant die berge waar daar meer as 12 miljoen mense woon (volgens 2000 se sensus). Op die foto regs kan die middestad gedeelte van Glendale gesien word en in die verte mag julle dalk net-net Los Angeles se middestad uitmaak.

Langs die pad na die Mount Wilson sterrewag, ry 'n mens verby hierdie klomp antenna's bo-op die berg.

Uitsig oor die Los Angeles vlaktes vanaf die Mount Wilson sterrewag. Iets wat ons hier opgeval het was die vorm van die wolke in die lug. Die konstante herhalende patroon moes die gevolg gewees het van 'n buitengewone herhalende atmosferiese toestand.

Op 'n pad by die Mount Wilson sterrewag - ons eerste nadere kennis met sneeu in Kalifornië! Min het ons geweet hoe baie nog vir ons voorlê.

Hier van die Mount Wilson sterrewag af was die uitsig op "Snow Crest" se sneeu baie mooi teen die helder blou lug.

Van die koepels van die teleskope van die Mount Wilson sterrewag.

Hier ry ons al met die Mitsubishi Montero Sport in die sneeu! In Suid-Afrika is die Montero bekend as die Pajero. Ons was baie bly vir die 4x4 se vastrapvermoë op hierdie stuk pad.

So "cool" het julle nog nie vir my gesien nie. Dit is nie "cool" nie, maar sommer lekker ysig koud!

Sneeubedekte hange naby "Snow Crest" van naderby.

Hier ry ons al sommer lekker in die sneeu! Op die foto regs is die termometer se lesing wat ingebou is in die truspieël. Dit was die temperatuur om 13:00 die middag. By tye het daar ook "ICE" gestaan om ons te waarsku teen die koue. Die Mitsubishi se ABS remme het 'n hele paar keer hard gewerk op die ysige oppervlaktes.

Die hoogste punt van ons roete. Dit is by 2140m bo seespieël, meer as dubbeld so hoog soos Tafelberg! Op die bordjie sien julle ook die Amerikaanse afkorting "XING". Dit staan vir "crossing". Die bordjie waarsku mens dus dat stappers hier die pad kan kruis. Hier in die stad is elke voetganger oorgang oor die paaie ook gemerk met 'n prentjie van 'n mannetjie en "XING" onder die prentjie of "PED XING" en dan moet buitelanders ook sommer weet dit staan vir "Pedestrian Crossing".

'n Ski hys stelsel by een van die ski-oorde in die berge. Nie een van hulle was in werking toe ons daar verby is nie.

Hierdie padteken spreek vanself!

Ons is deur hierdie tonnel op die roete. Die bordjie hier dui aan dat "Bighorn Sheep" hier rond gekry kan word. Ons het niks gesien nie.

Die einde van die pad vir ons mooi reis deur die San Gabriel berge. Die sneeuploeë het net tot hier skoongemaak. Die "Special driving zone ends here" bordjie dui aan dat die gedeelte van die pad, waar alle verkeersboetes verdubbel word, hier eindig. In gebiede waar 'n pad baie gevaarlik is en waar dit baie belangrik is dat mense versigtig ry word dubbelle verkeersboetes toegepas. Dit word ook gedoen orals waar daar padwerke is. Nogal baie sinvol.

Om om te draai het ons spesiaal so gery dat ons die in 4L rat moes gebruik om stadig oor die sneeuwal te ry. Ons kan darem nie al die pad hierheen kom met die 4x4 en nie van sy vermoëns gebruik nie! Kollega Chris Joubert het die foto geneem. Ons  ontdek toe dat die Mitsubishi nie 'n outomatiese ewenaarslot het in 4L nie! Ons sal maar volgende keer 'n Land Rover moet gebruik!

Terug na Januarie 2002 argief bladsy

Terug na hoofbladsy