Venice strand

Langs die kus van Venice strand is daar Ocean Front Walk. Dis nie 'n straat waar karre kan ry nie, maar 'n wandelpad vir mense. Saterdae is daar 'n yslike mense-massa in Ocean Front Walk (blykbaar is dit heelwat erger in die somer as wat ons beleef het).

Hier is van die talle winkels waar t-hemde, swembroeke, sonbrille en enige denkbare snuistery gekoop kan word. In die somer sou mens nie sulke foto's deur die gedrang kon neem nie.

Ons het maar net gelag vir hierdie vent wat die hele tyd op die tafel in hierdie winkel se ingang moes dans. Dalk is die winkel aan die sink ...

In sommige winkels sal jy my nooit vang nie!

Hier het kollega Chris vir my wel gevang waar ek by 'n winkel uitkom.

Verfwerk op van die geboue langs Ocean Front Walk. Die prentjie regs lyk drie-dimensioneel en 'n mens moet mooi kyk om te kan sien dis net 'n plat muur.

 

Daar is 'n klomp stalletjies waar hulle masseerwerk doen - ten aanskoue van alle verbygangers.

Ek sal nie iemand vertrou wat sommer op 'n bed langs die see my rugstring wil herbelyn nie! Wat die Stephanie bedoel met 'n "Sacred Healing Massage" sal net sy weet.

Die duiwel loop natuurlik ook hier rond. Die hoeveelheid "psychic"'s, Tarot kaart lesers en gipsie-agtige vrouens met kristalballe was skokkend.

Hierdie man, Dr Kindlove is 'n "Sex Counselor en Happiness Dispenser"! Kyk ook na die "alien" gedroggie op die stoel links van hom. Daar was twee van hulle op stoele, met 'n leë stoel tussen-in. Vir $1 kon 'n mens op die leë stoel sit om afgeneem te word!

Selfs "Athesists United" het 'n stalletjie waar hulle pamflette uitdeel.

Daar is ook baie kunswerke in allerhande style te koop. Hierdie ou het seker gedink die ".COM" agter sy stalletjie se naam sal aandag trek. Ons het ook 'n Zulu van Kayelitsha ontmoet met 'n stalletjie, waar hy klein skilderytjies van plakkershutte verkoop. Sy naam is Fortune. Ons het lekker met hom Afrikaans gesels. Hy wou net weet of ons nie dalk vir hom lekker Suid-Afrikaanse wyn het nie!

Daar is ook allerhande vertonings, waar elkeen probeer om 'n $ of wat te maak uit die skare. Hierdie ou spring van die stoel af met sy kaal voete op die hoop stukkende glas wat daar lê en wys dan vir die skare dat daar geen snye aan sy voete is nie!

Musikante van alle soorte is daar ook. Die ou regs is 'n regte "One man band" wat dromme, simbale en kitaar speel terwyl hy sing.

Hierdie ou is weer 'n mobiele orkes. Ongelukkig het sy rollemskaatse nie op die foto uitgekom nie.

Die ander groot ding van Ocean Front Walk is al die fisiese aktiwiteite. Daar is 'n fietsbaan die hele lengte van die strand en voetgangers word nie daar toegelaat nie. Kyk na hierdie interessante plat driewielfiets links.

Hier oefen 'n ma met haar fiets terwyl sy haar babatjie in 'n sleepwa agter die fiets aansleep!

Ocean Front Walk se reël is - hoe snaakser hoe beter!

By die gedeelte van die strand, bekend as "Muscle Beach" is daar 'n buitelug gimnasium waar die MANNE met hulle spiere pronk.

Hierdie vleispaleis het vir hom twee meisies saamgebring as gewigte!

Gimnastiek en basketbal langs die see.

 

Hierdie sport, wat bekend staan as "handball", is soos muurbal, maar jy gebruik nie 'n raket nie, die bal word met die hand geslaan. Die bal is amper so groot soos 'n tennisbal.

Hier is 'n rolskaatdisko! In die agtergrond maak hulle musiek en op die betonblad haal elkeen sy eie stel toertjies uit op rolskaatse op maat van die musiek.

Terug na Januarie 2002 argief bladsy

Terug na hoofbladsy