Saddleback Church

Sondag 20 Januarie 2002 Vandag was ons by die Saddleback kerk suid van Los Angeles. Iets wat verstommend was oor die pad soontoe is dat ons omtrent 100 km gery het en toe was ons nog maar steeds in Los Angeles! Ons het verby drie lughawens gery op pad en daar is groot winkel- en kantoorkomplekse langs die pad, te veel om te tel.

Die ingang na die kerk is deur die palmlaning aan die linkerkant. Dit lyk dat asof alles in Kalifornië deur 'n ry palmbome versier moet word! Die foto regs wys die hoof ouditorium, die kerktoring en die weerkaatsing van die palmlaning teen die glas. Die man wat ons by die ingang verwelkom het wou toe baie graag belangstelling omdat hy gehoor het ons is van Kaapstad. Toe vra hy: "Have you ever been to the Sahara desert?"! Dis nou so tipies van die uiters naïewe Amerikaners!

Hierdie foto's is na die diens in die binnekant van die kerk geneem. Op die verhoog was 'n orkes van 24 lede, met kitare, dromme, vioole, trompette, saksofone, ens. Bokant die verhoog is drie skerms en weerskante is twee yslike groot skerms.

Hier is die plek waarvandaan die klank in die kerk beheer word. Dit laat die kleink klankbordjie in die hoek van Strand-noord se kerk maar bitterlik klein lyk!

Iets wat baie interessant is by Saddleback is die stalletjies buitekant die kerkgebou waar van die verskillende diensterreine van die gemeente hulleself kan bekend stel. By elke stalletjie is daar iemand wat 'n mens kan uitvra met pamflette wat vertel hoe hulle werk en wie gekontak kan word. Dit was 'n BAIE verfrissende kontras met die stalletjies die vorige dag by Venice strand, waarvan sommige sommer net duiwels was.

Die kinderbediening by Saddleback staan bekend as All Stars. Dit word op die oomblik in opslaangeboue gehuisves. Die foto regs is van die bouprojek vir die lokale vir hulle kinderbediening aan laerskoolkinders. Die kinderbediening word deur 2500 kinders per naweek bygewoon!

Hierdie is die tent waar die hoërskoolkinders bymekaarkom. Die "HSM" teken op die tent staan vir "High School Ministry".

Die kerk se webruimte is by www.saddleback.com

Terug na Januarie 2002 argief bladsy

Terug na hoofbladsy